Karin, ongeredigeerd

Om wys te word

Hierdie blok was deel van my helingsproses.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Tydens die skryf daarvan was ek nie baie wys of slim nie; ek was séér.

As jy hierop afkom en dit dalk lees, hou dit tog net in gedagte…

Wysheid kom eers met nabetraging; en spyt kom ALTYD te laat.

Groete

Karin

 

Fin

Ek weet nie hoeveel van julle is oud genoeg om die witlynmannetjie op die blou agtergrond te onthou nie. Hy het so ‘n snaakse taal gepraat en wanneer sy storietjie verby was, het daar FIN op die skerm verskyn.

Hierdie is my FIN.

Die storie wat ek hier geskryf het, is klaar. Hier het ek my hart leeggepraat en leeggehuil. Dit was nodig.

Ek het niks meer daaroor te se nie. Ek het ‘n nuwe lewe begin en ek is gelukkig.

Van nou af wil ek net vorentoe kyk.

fin

Al wat ek uit my verlede met my gaan saamneem, is die lesse wat ek geleer het.

Ek het geleer dat daar skelm en wrede mense tussen ons rondloop. Ek het ook geleer dat jou hulp uit die vreemdste oorde kom. Ek het geleer van die waarde van vriendskap.

En die grootste les van almal? Ek het die ware betekenis van liefde leer ken.

K

Die afgelope paar dae is ek heeltemal lukraak en uit die bloute deur verskeie individue, wat mekaar van geen kant af ken nie, uitgevra oor Drewan Baird aka Nathan Bond aka Koning Dawid; die rede vir die begin van my blok.

Een wou weet of ek ooit weer van hom gehoor het; ‘n ander wou weet of ek hom nog gaan laat opskroef en wanneer; en ‘n ander wou net gesels en het my vertel van sy eie ondervinding met die bliksemse swendelaar; nóg ‘n lang en siek verhaal wat my geskok het, maar beslis nie verbaas het nie.

Dis nogal vreemd om weer aan hom te dink en te dink oor hoe dom ek was. Ek het vannaand weer my eie storie gaan lees, vir die eerste keer in ‘n lang tyd. Ek kan amper nie glo dat dit ék was wat dit alles beleef het nie. Dit voel asof ek van ‘n dom-onnoselle, blinde en breinlose vreemdeling lees.

Maar ek voel nie meer daaroor nie. Ek voel niks. Geen woede nie. Geen skaamte nie. Geen selfbejammering nie. Geen bitterheid nie. Niks. Nada.

En dit is goed.

‘n Vriend het my gedurig tydens my donkerste tyd herinner aan ‘n Engelse spreekwoord wat vertel dat mens nooit moet aksie neem wanneer emosie betrokke is nie. Emosie belemmer ‘n mens se oordeel. Revenge is best served cold.

Tydens my emosiebelaaide herstel het ek gereeld moordgedagtes gekoester en het ook twee aanbiedinge gehad van vriende wat bereid was om die man die tydelike met die ewige te laat verwissel.

Nou dat ek onobjektief daaroor dink, meen ek dit is nog steeds ‘n goeie idee. Want hy het nie opgehou nie. Hy is steeds besig om mense om elke hoek en draai te bevark en te vernietig. Hy skryf elke dag lustig voort op sy eie blok en sleur nuwe slagoffers mee met sy meesterlike manipulasie vermoë.

Na meer navorsing en inligting wat ek onlangs oor sy persoonlike verlede bekom het, het ek nou tot die slotsom gekom dat hy nie rehabiliteerbaar is nie. Dat hy ‘n gevoellose psigopaat is wat mense en instansies gebruik en manipuleer tot sy eie voordeel. Hy het geen berou nie. Hy het geen gewete nie.

Hy het nie die reg om so voort te gaan nie. Hy moet kry wat hom toekom.

Daar is heeltemal te veel mense wat deur hom vernietig en/of verneder is maar die wet is ongelukkig nie altyd aan die lydende party se kant nie.

En, wat baie mense vergeet: Hy is so slim soos die houtjie van die galg. Hoekom anders sou so baie mense – slim en belangrike mense – hulle vasgeloop het met hom?

Hoe hierdie storie gaan eindig weet ek nie – maar ek weet nie of ek nog lus is daarvoor nie. Dit het lank genoeg my lewe regeer. Hy kan maar my geld hou. Die les wat ek geleer het was seker R52 000 werd…

knights.jpg

Ek het so ‘n paar maande gelede my blog begin met één doel voor oë, om my kop en hart leeg te kry; en ook om in die proses te probeer herstel.

Ek het hart verloor op ‘n man wat my op meer as een manier misbruik het. Die verhaal het ek in die vorm van ‘n sprokie vertel.

Hier is egter ‘n baie reguit en nugter blok oor die selfde man.

http://prometheusongebonde.wordpress.com/2007/12/19/science-does-not-need-friends-like-nathan-bond/

Die Storie – Slot

My storie het nog nie ‘n slot nie, maar hier is waar hy nou gaan stilstaan het…Die koning se saak word tans van alle rigtings ondersoek deur almal wat hy skade berokken het. Baie vrae word gevra. Antwoorde is daar steeds nie. Ek self het regshulp ingeroep en is in die proses om ‘n kriminele klag teen hom te formuleer. Dit wil voorkom asof daar ook ander klagtes teen hom gaan wees, beide siviel en krimineel.

Dit het ook aan die lig gekom dat hy ‘n lang geskiedenis van bedrog het en dat ek en sy vriende nie sy eerste slagoffers was nie.

Die koning neem tans die rol in van ‘n pateet wat eerder die ander wang wil draai terwyl hy besig is om ‘n antwoord op die beskuldigings te fabriseer. Of die antwoord OOIT gaan realiseer is ‘n ander vraag…

Intussen gaan ek voort met my lewe.

Ek probeer aangaan deur al my aandag op my dogter en op my werk te fokus vir nou. Dit is al wat op die oomblik vir my saakmaak. My kind begin volgende week met haar matriek-eindeksamen en sy het my nou nodig.

mt.jpg

Gelukkig het my dogterkind heelhuids uit die ding uitgekom en is sy nie persoonlik skade berokken nie. Die verhouding tussen my en haar het in der waarheid baie verdiep en ons is nader aan mekaar as ooit tevore. Ek glo ook sy het iets geleer hieruit wat haar dalk later in haar eie lewe van nut kan wees.

Later wanneer dinge minder seer maak en ek volkome herstel het sal ek weer aan die ander dele van my lewe aandag gee.

Hierdie is nie my laaste skrywe op my blog nie, maar die storie oor my verlede is nou klaar.

My toekoms lê en wag…

Die Storie – Hoofstuk 9

Koningin K het mettertyd besef sy klou vas aan iets wat sy reeds verloor het; iets wat sy nooit gehad het nie. Sy het stadig tot die besef gekom dat haar verhouding met Koning D heeltemal eensydig was. In praktyk het alles van haar kant af gekom, niks van syne nie. Al wat hy ooit vir haar gegee het was woorde en lee beloftes.

Sy wou nie die werklikheid in die oe staar nie, sy wou nie aan haarself of die wêreld erken dat sy iemand toegelaat het om haar van alles te stroop nie. Haar selfrespek, haar liefde, haar vertroue in mense en haar finansieele vryheid.

Sy het haarself heeltemal in hom verloor.

En sy was skaam.

Die wêreldwyse, sterk en slim vrou, het haar vasgeloop. Die vernedering was eenvoudig te veel en sy het haar van die wêreld afgesonder.

Dit was ‘n donker tyd.

ss26016.jpg

‘n Klets-Vriendin uit ‘n ver land het vir haar kom kuier. Hulle het saam gehuil; Vriendin oor haar eie seer en Koningin K oor haar verlies. Dit het getroos, maar niks verander nie.

Die donkerste dag van almal, was die 17 Augustus, haar 40ste verjaarsdag. Haar troudag.

Familie het van ver af kom kuier. Lank voor die tyd gereel dat hulle haar vreugdevolle verjaar-en troudag by haar sal wees.

Maar daar was nie ‘n troue nie. Net vernedering, ongevoelige opmerkings, verwyte en hartseer. Sy het daardie nag haar kamerdeur agter haar gesluit en al die klere en goedjies wat hy agtergelaat het in hulle klerekas, finaal weggepak. Sy het daardie nag ook finaal haar liefde vir hom weggepak. Sy moes veg om haar selfbehoud.

Maar… daar was ook blomme. ‘n Pragtige bos wit verrassings-blomme om haar te troos. En daar was vriende.

blom.jpg

En toe begin sy praat. 

Daar was eensklaps omgee en ondersteuning uit die mees onverwagte oorde. Koningin K het besef dat mens nie jou familie kan kies nie, maar dat sy wel daarin geslaag het om reg te kies toe sy haar vriendskappe gesmee het.

Hoe meer sy gepraat en vertel het, hoe meer wou sy praat en vertel. Die aanvanklike skaamte en die vernedering wat daarmee gepaard gegaan het, het spoedig verflou in die lig van die liefde en onderskraging van haar vriende.

Sy was eensklaps ook nie meer alleen in haar soeke na geregtigheid nie. Soos sy haar verhaal begin vertel het, het daar ook ander individue na vore gekom wat deur Koning D bedrieg en verblind is. Ander mense, meestal sy vriende, wat ook onder sy meedoenlose en gewetenlose swendelary deurgeloop het.

Sy het nie meer soos ‘n dom idioot gevoel nie. Mense vir wie sy baie respek het en wat sy voorheen baie slimmer en sterker as haarself geag het, het ook deurgeloop onder die briljante, vlymskerp brein en oorredingsvermoe van haar Koning D.

Die begin van die einde was in sig…

Die Storie – Hoofstuk 8

In die tyd van die rok en die laaste geld, moes Koning D inderhaas vertrek na sy land in die Ooste waar daar met Koppe in die Sand gestaan word. Hy moes dringende reelings gaan tref vir ‘n verwelkomingskommitee om die langverwagte skip in die hawe te ontmoet.

Die opgewondenheid waarmee hy haar elke dag gebel het, was merkwaardig. Die frustrasie ook, dae het verbygegaan terwyl hy naarstiglik met die hawemeester baklei en onderhandel het om die skip in die hawe toe te laat. Die hawemeester was ‘n dom en onnosele vent en sy klerke wat met doeane en aksyn moes onderhandel om die fabelagtige skatkis in ontvangs te neem, almal ‘n klomp breinlose idiote.

Koningin K is daagliks op hoogte gehou van verwikkelinge en die opdrag gegee om hom nie te steur nie aangesien hy elke dag – die heel dag lank – in intense en belangrike vergaderings was om die veilige aankoms van die skip in die hawe te verseker.

Gedurende hierdie tyd het Koning D vir Koningin K gevra om asseblief weer in haar skatkis te gaan loer en te sien of daar nie dalk nog ‘n paar munte rondlê wat hy as omkoopgeld aan die hawemeester kon betaal nie. Koningin K het gaan kyk, al het sy geweet daar was niks. Sy het dit selfs oorweeg om haar vorige Koning H te vra vir ‘n paar munte, maar sy het nie geweet hoe sy sou kon verduidelik oor waarheen haar reuse skatkis heen verdwyn het nie.

Toe sy koning D laat weet dat daar regtig niks meer is nie, was hy effe ongelukkig en het sy ongelukkigheid gedemonstreer deur haar daarna al hoe minder te bel.

Daar het soms dae verbygegaan waarin sy niks van hom gehoor het nie en wanneer sy hom probeer bel het, was al sy telefone op voice-mail. Hy het haar soms op vreemde tye gebel en haastig verduidelik dat hy dadelik moes teruggaan na die vergaderings en dat almal vir hom wag; dat hy net vinnig uitgegeglip het om haar te vertel dat dit wil voorkom asof dinge binnekort opgelos sal wees.

Ander kere het hy haar gebel, briesend en woedend oor die onbeholpenheid van die Hawemeester en sy klerke en dan sommer ook die Skip se kaptein sleggesê.

So het dit aangehou vir weke.

Koningin K se bril het vir oulaas gekraak, maar sy het uitgewoonte steeds die stukkende raam sonder glas in die oggende opgesit; en al wou sy nie die werkilikheid in die oe staar nie… het sy dit stadig maar seker begin sien.

Sy was alleen. Sy was seer. Sy was kwaad. Maar meestal, was sy alleen. Haar meisiekind was by haar pappa vir die wintervakansie en sy moes haar eerste nat en koue winter in haar nuwe kasteel alleen , heeltemal alleen oorleef.

220505j.jpg

Haar liefde vir haar koning wou ook nie weggaan nie. Sy het daagliks haar brein afgestof en blinkgevryf, maar haar hart het haar denke elke dag weer onder ‘n kombers verberg.

Sy was werkloos, geldloos en manloos. Die toekoms het vaal en bleek voor haar gelê.

Omdat sy egter van nature heel lewenslustig was, het sy nie vir baie lank op ‘n hopie gesit en gehuil nie. Sy wou ‘n oplossing vind vir haar alleenwees.

Koningin K het haarself op ‘n internet vryplek geadverteer en baie duidelik daarop gesê dat sy nie ‘n nuwe koning soek nie, maar dat sy plesier en speelmaats soek.

Sy het baie speelmaats gekry en hulle op ‘n ry, een vir een, moeg gespeel. In hierdie selfde speeltydperk het sy amper daagliks steeds vir haar Koning D in die hande probeer kry en soms geslaag. Hy het haar steeds van sy ewigdurende liefde verseker en verhale van skatte en skepe en hawens vertel.

Sy was in twee geskeur. Sy het skuldig gevoel oor haar nuwe speelmaats. Sy was egter meer alleen as ooit tevore.

Die Storie – Hoofstuk 7

Daar was nog krake in Koningin K se bril. Die liefdeslagie oor die krake het haar egter steeds heeltemal verblind.Die vierde kraak het gegaan oor niks.

Koning D het feitlik niks saamgebring toe hy by haar kom bly het nie. Net ‘n bietjie klere, twee paar skoene, ‘n blou tandeborsel, sy flashdrive en sy twee selfone.

Hy het verhale vertel van sy tasse en bokse vol boeke, ander klere en goedjies, wat daarheen oppad was. Sy het opgewonde die helfte van haar reuse boekrak leeg gemaak, gereed om sy boeke te huisves. Die helfte van die klerekas was ook aan hom toegesê en gereed om al sy klere en skoene te ontvang.

Die goed het egter nooit opgedaag nie. Daar was altyd een of ander situasie of derde party wat die vervoer en aflewering daarvan bemoelik en vertraag het.

Die enigste boeke wat sy ooit by hom gesien het was die bundels wat sy self vir hom gekoop het. Boeke waarvan hy gereeld geskryf het en uit aangehaal het, maar nooit voorheen besit het nie. Boeke en lees was nog altyd vir haar belangrik en baie spesiaal; en dit was duidelik dat hy dieselfde passie daarvoor gehad het. 

books_glasses.jpg

Die enigste ander klere of skoene wat sy hom ooit sien dra het, was dit wat sy self vir hom gekoop het. Dit was vir haar die lekkerste ding om in die markplein in te vaar en klere vir hom te koop en hom daarmee te verras wanneer sy by die huis kom.

Hy was altyd baie dankbaar en het ‘n groot ophef daarvan gemaak wanneer sy vir hom ietsie huis toe gebring het. Dit het haar aangespoor om dit weer en weer te doen.

Die vyfde kraak was nog meer niks.

Koning D het niks gedoen nie. Hy het die heel dag en nag voor haar rekenaar in haar tuiskantoor gesit. Hy het geskryf en gedink en oproepe gemaak en die koerant gelees. En dis al.

Die tye wanneer hy nie daar gesit het nie, was wanneer sy hom vol skuldgevoel, (want sy wou hom nie steur nie), mooi gevra het of sy ‘n rukkie by haar kletsplek kon gaan kuier en toegang tot haar rekenaar mag kry om haar e-posse te lees.

Sy het gereeld langs hom gesit en gekyk hoe hy skryf en dink. Dit was vir haar baie mooi. Hy was so slim. Sy briljante woorde het haar verder meegevoer en betower.

Die sesde kraak was die koms van die Prinsessie.

Koningin K en Koning H se Matriek-prinsessie het in die tweede week van die 2de skoolkwartaal besluit dat sy nie vir een oomblik langer sonder haar mamma kon of wou leef nie. Daar was groot drama, baie trane, baie praat en baie luister tussen die betrokke partye. Die uiteinde van die saak was dat sy binne die bestek van dae, sak en pak by haar mamma en haar nuwe koning kom woon het.

Dit was ‘n vreemde tyd.

Die prinsessie het feitlik daagliks vir Koningin K gesê dat sy Koning D nie vertrou nie en dat sy nie wil hê haar mamma moet seerkry nie. Koningin K het gedink haar Poplap was net jaloers en vreemd en dat dinge sou regkom. Dit het. Maar slegs op die oppervlak.

Toe die prinsessie uitvind van al die goue munte wat haar mamma reeds aan Koning D gegee het, was sy hoogs ontsteld. Sy kon nie glo dat haar ma durf waag het om die fondse waarmee Poplap o.a. haar eerste wa moes kry, reeds in Koning D se koffers was nie. Hy het haar egter belowe dat hy binnekort – sodra sy skip aankom – vir haar ‘n vervoerdingetjie sou koop.

Die laaste strooi vir die prinsessie was toe Koningin K vir die prinses moes vertel dat sy nie vir haar ‘n balrok vir haar matriekafskeid byhaar vorige skool in die Groen land by die See, kon koop nie. Daar was niks meer oor in haar skatkis nie. Daar was net genoeg om ‘n vliegtuigkaartjie mee te koop. Koning D het alles gehad, elke sent.

Koning D het egter aanhoudend belowe dat sy haar rok binne ‘n dag of twee sou hê, want sy skip was al feitlik in die hawe.

Hy het haar oortuig en aangemoedig om die rok van haar drome te gaan uitkies. En sy het. Dit was die mooiste, mooiste rok. Sy het voorwaar soos ‘n ware prinses gelyk en haar pragtige ogies het gestraal van opgewondenheid. Dit was die Vrydag. Die rok sou die Maandag gekoop word.

cinderella.jpg

Die prinsessie het sonder ‘n rok na haar pappa in die Groen land by die See gegaan. Daar waar die bal sou plaasvind. Sy moes tevrede wees met ‘n rokkie wat haar pappa op die laaste moontlike oomblik vir haar by hul plaaslike markplein kon koop.

Daarna was dit verby met die prinsessie se verdraagsaamheid en vertroue in haar ma en in Koning D. Sy het haar ma gewantrou en terselfdertyd jammer gekry omdat sy steeds vir Koning D liefgehad het en elke woord geglo het wat hy haar vertel het.

Ten spyte van haar lieflingkind se reaksie, was Koningin K steeds heeltemal betower deur haar alsoorheersende en blinde liefde vir haar liefste Koning D. Hy kon niks verkeerd doen in haar oe nie.

Alle twyfel wat ooit by haar opgekom het, het hy vernuftig in die niet laat verdwyn met sy pragtige fabels en feeverhale van ‘n skip op die see met ‘n fabelagtige skatkis wat binne die bestek van dae sou anker gooi in die hawe; en dierbare verhale van ewigdurende, onsterflike liefde vir haar, sy enigste Koningin.

Die Storie – Hoofstuk 6

Koningin K was gelukkig, maar steurende klein krakies het in haar donker rooskleuriggetinte liefdesbril verskyn.

Die eerste krakie was finansieel van aard.

Koning D het feitlik daagliks ‘n asemrowende en uitmuntende verhaal vertel van sy fabelagtige skatkis wat van baie ver oor die see, van die land van die regte Queen na hom oppad was per skip. Daar was egter vreeslike seedrake en monsters wat telkemale die skip uit koers uit gejaag het. Daar was ook woeste storms en verhale van ‘n drakerige vrou en dierbare kindertjies wat deur seerowers ontvoer is.

Elke nou en dan het hy Koningin K mooi gevra om hom te help om die Kaptein van die skip ‘n bonus of twee te betaal om hom op koers te hou; of om ‘n losprys te betaal aan die seerowers vir die vrylating van die onskuldiges. Die Kaptein was ‘n regte geldvraat… en die seerowers knaend. Koningin K se skatkis het met rasse skrede gekrimp, maar die belofte van haar liefling se skatkis wat oppad was na hulle toe, het haar gerus gestel.

As gevolg van die reisende skatkis van Koning D, moes Koningin K intussen ook al hul daaglikse en maandelikse uitgawes dek. Sy kon; en sy het, maar sy het nie regtig daarvan gehou nie. Die liefde is egter ‘n baie vreemde ding, die vreemdste natuurlik die blindheid daarvan.

Die tweede krakie was agv ligaamlike kontak.

Koningin K was van jongs af ‘n lustige, lyflike ding wat tydig en ontydig aan almal gevat en gedruk en gesoen het. En wanneer sy iemand liefgehad het, dan het dit amper ongeskik geraak soos sy nie haar hande of haar mond kon tuishou nie. Haar ongewone huwelik het haar uitgehonger vir ‘n regte man se liefdevolle en lustige aandag maar Koning D kon dit eenvoudig nie verdra nie.

Gedurende die dag het hy haar drukkies, soentjies en aanraking met moeite verdra en snags in die bed, sy rug op haar gedraai. Hy het haar probeer oortuig dat hul liefde op ‘n ander vlak was; en dat dit wat sy met haar hele lyf begeer het, nie belangrik was in die spesiale en unieke verhouding wat hulle gehad het nie. Hy het haar oortuig dat haar lustigheid lastig was en sy het geleer om haarself met moeite van hom te weerhou.

 

Koningin K kon egter nie verstaan hoe die man wat haar met sy meesterlike woorde in beswyming kon bring gedurende hul hofmakery, niks kon of wou doen wat hy geskryf of oor die foon kwytgeraak het nie. Sy het weer die fout by haarself gaan soek, presies net soos sy in haar huwelik gemaak het. Haar selfbeeld het erg skade gely en sy het weereens alle skuld daarvoor op haarself geneem.

Maar… ‘n lustige boeremeisie maak ‘n plan en sy het gaan besoek afle by ‘n Grootmens Wêreld en vir haar ‘n paar speeldingetjies gaan koop om haar tevrede te hou. Speeltyd was egter altyd in sy afwesigheid, aangesien sy hom nie aanstoot wou gee nie…

Die derde groot kraak was sy gedurige afwesigheid.

Koning D het baie selde langer as 4 dae op ‘n slag by haar gebly. Hy was gedurig oppad na dringende vergaderings in sy land van Koppe in die Sand in die Ooste. Die fabelagtige vergaderings was altyd op Vrydae en dan soos die noodlot en sy feeverhale dit wou he, het die belangrike besprekings meestal oorgeloop tot die volgende Maandag of Dinsdag. Dit het hom dan die geleentheid gegee om die afgetrede Koning, die Koninginmoeder, sy twee pragtige prinsessies en die draakvrou te besoek oor naweke.

Op ‘n stadium het sy wa in die niet verdwyn, volgens gerugte deur die geregmatige eienaar teruggeeis, en moes sy hom gaan haal.

Daarna het hy sy weeklikse vergaderings met haar wa gaan bywoon en haar waloos en alleen in hul kasteel onder die helder berg gelos…

Die Storie – Hoofstuk 5

Koningin K was vir die eerste keer in haar lewe vry. En vir die eerste keer in haar lewe heeltemal alleen oppad iewers heen. Sy was bang. Maar sy het geweet dit is alles die moeite werd.

Die pad was lank, maar mooi. Haar nuwe koning het haar elke uur of wat gebel om seker te maak dat sy nog rigtingvas en veilig was. Sy het teen sononder van die eerste dag begin uitkyk vir ‘n veilige herberg vir die nag en sommer vinnig een gevind. Sy was moeg. Sy het haarself toegesluit teen die donker nag en was binne minute in droomland.

Douvoordag die volgende oggend het sy in die pad geval, opgewonde in die wete dat daardie dag inderdaad die eerste dag van haar nuwe lewe was.

Sy het vroeg die middag by haar bestemming aangekom en haar nuwe kasteel gaan aanskou. Sy kon eers die volgende dag intrek aangesien haar meubels eers dan sou opdaag. Weer moes sy ‘n tydelike herberg vir die nag vind; en sy het.

Tussen al die opgewondenheid deur, was haar hart baie seer. Koning D kon nie saam met haar wees om haar te help nie. Hy het sogenaamde dringende sake gehad wat hy moes afhandel voordat hy na haar toe kon kom, maar hy het belowe hy sou binne ‘n paar dae by haar wees. Sy was ook effens teleurgesteld in haar koning want sy moes tot en met dan, al die onkoste vir hul nuwe kasteel dra. Die dubbel huur, die water en elektrisiteit aansluiting en so meer. Hy het egter geen beloftes van sy kant gemaak om haar finansieel by te staan nie en sy het dit maar aanvaar, want haar rooskleurige liefdesbril se lense was steeds erg getint.

Die volgende dag is sy baie vroeg na haar nuwe kasteel en daar het sy haar aspoestertjie gewaad aangetrek en begin skrop en skoonmaak sodat sy gereed kon wees om haar meubels in ontvangs te neem. Koning D het belowe hy sou reel vir diensmeisies om haar by te staan, maar hulle het nooit opgedaag nie. Sy moes alles alleen doen; en sy het. Laat die middag het haar paar stukkies meubels opgedaag en binne ‘n uur of wat, was alles op hul plek. Daardie nag het sy die slaap van die dooies op die bank in die sitkamer geslaap, aangesien sy nog nie ‘n bed gehad het nie.

Die volgende dag is sy na die groot markplein langs haar kasteel waar sy beddens, kantoormeubels, ‘n yskas, wasmasjien, tuimeldroer, linne, gordyne en kombuisgoed gaan koop het. Haar skatkis het dramaties gekrimp, maar sy was nie bekommerd nie want haar Koning D sou binnekort by haar aansluit en sy skatkis met haar deel. Al wat vir haar belangrik was, was om hul nuwe woning so mooi en gemaklik as moontlik vir haar en haar liefling te maak. En sy het.

En toe begin die wag.

Koning D het belowe hy sou binne ‘n paar dae by haar wees, maar hy was nie. Die dae het ‘n week geword, en die week later drie weke. Elke nuwe dag het sy met opgewondenheid ingewag en elke aand het sy hartseer en teleurgesteld alleen in haar groot bed aan die slaap geraak. Koning D het daagliks belowe hy sal binne ‘n dag of wat by haar wees, maar dit het nie gerealiseer nie. Hy het egter altyd wonderbaarlike fantasieverhale en geloofwaardige verskonings gehad oor sy langdurige afwesigheid.

Sy briljante vrykuns oor die foon en per e-pos het egter verseker dat haar liefde vir hom daagliks steeds sterker en sterker geword het en dat haar verlange na hom feitlik onuithoubaar geraak het.

Na amper 4 weke van alleen wees en wag, is hy toe een dag skielik daar!

Dit was ‘n vreugdevolle wedersiens en die koning was verstom om te sien hoe pragtig hulle nuwe blyplek was. Hy was so tevrede soos ‘n vark in Palestina. 

Die Storie – Hoofstuk 4

Terug by hul onderskeie huise het die selfone, landlyne en internet behoorlik gegons en deurgeloop onder Koningin K en Koning D se vrybriefies, liefdesverklarings en toekomsplanne.

Koning H was erg jaloers. Hy wou ook ‘n koning he, maar het nie geweet waar om te begin soek na ene nie.

Die wyse Koningin K het dit goed gedink om hom op ‘n internet-vryplek te adverteer en binne dae was daar iemand wat hom wou ontmoet. En hulle het. En dit was liefde met die eerste soen. Binne die bestek van ‘n paar weke is daar besluit dat Koning H se nuwe maat Koningin K se helfte van die kasteel by haar sou koop. En hy het. En toe trek hy in.

Dit was ‘n vreemde tyd…

Koningin K en Koning H se opgeskote dogterprinses was midde van die verwikkelinge heeltemal uit koers uit geruk. Haar mamma was verlief op ‘n ander oom; en haar pappa ook. Sy wou nie saam met haar mamma gaan nie want sy wou haar laaste skooljaar by haar eie en bekende skool en saam met haar vriende klaarmaak. Maar sy wou ook nie by haar pa en sy nuwe liefling bly nie. Uit desperaatheid het Koningin K toe die besluit geneem om vir Prinsessie ‘n kasteeltjie van haar eie te kry, naby die skool, die kerk en haar pa.

Koningin K het intussen weer na die land van Die Berg en baie Wyn gevlieg en haar ridder het haar op die lughawe ingewag. Hierdie keer het hulle ‘n missie gehad: ‘n Soektog na ‘n permanente woning waar die twee van hulle ‘n nuwe lewe saam kon begin.

Die soektog het in die bosch begin en tot by die blou strand met die uitsig gaan draai. Die hoek van vrede is ook van alle kante bekyk maar uiteindelik het hul soektog onder ‘n helder berg geeindig.

shop_01_27_07_011.jpg

Koningin K is vir oulaas terug na die groen land by die see en het haar sake in orde gaan kry. Met haar nuwe skatkis, uit die verkoop van haar halwe kasteel, het sy al haar skuldeisers gelukkig gemaak, vir haar ‘n nuwe wa gekoop, haar paar gunsteling antieke meubelstukkies gepak, haar liefling-dogterkind gehelp om haarself tuis te maak in haar nuwe blyplekkie, almal gegroet en haar goed gevat en gewaai.

Haar nuwe lewe het sowat 2000km verder vir haar gele en wink…

Die Storie – Hoofstuk 3

Koningin K het onmiddelik vir Koning D gebel en hom die vreemde nuus gegee. Skielik was daar niks wat in hulle pad gestaan het nie en hulle het begin beplan aan hul eerste ontmoeting. Sy sou van haar groen land by die see afvlieg na die land van Die Berg en baie wyn; en hy sou van sy land in die Ooste waar daar met koppe in die sand gestaan word, ry om haar op die lughawe te ontmoet.

Al het hulle reeds baie foto’s van mekaar gehad wat hulle per e-pos aan mekaar gestuur het, so tussen die duisende liefdesverklarings, -briewe en SMS’e deur, was Koningin K effe geskok toe sy hom vir die eerste keer in lewende lywe op die lughawe sien. Koning D was heelwat korter as sy; en baie stewig.  Siende sy self groot en stewig van postuur was, het sy gedink dat sy in elk geval nie die reg het om hom op sy uiterlike te oordeel nie; en hom net daar en dan aanvaar soos hy was.

Saam het hulle aan die kus naby die wynlande ‘n liefdesnessie betrek en mekaar beter leer ken, op meer as een manier. gordons-bay-pana-2-545.jpg

Die rooskleurige liefdesbril wat sy gedra het se lense was erg getint en hy was eensklaps haar ridder, haar redder, haar troos en haar hele toekoms. Sy het alles in haar vermoe gedoen om hom gelukkig en tevrede te hou. Sy was heeltemal blind vir sy tekortkominge en het geglo dat sekere sake sou verbeter met tyd…

Na drie idiliese dae, waarvoor sy alles self moes betaal omdat sy sogenaamde skatkis iewers op ‘n skip in die oopsee was, het hy haar veilig by die lughawe terugbesorg.

Daar was baie trane en ewige beloftes van trou met die afskeid, asook tranerige planne oor hul volgende ontmoeting.

Koningin K het die moed bymekaar geskraap en vir Koning H vertel dat sy iemand anders liefgekry het en dat sy wil skei.

Hy was baie geskok, maar het haar dadelik vertel hoe bly en dankbaar hy was dat dit gebeur het. Sy het nie so ‘n vreemde en ongewone reaksie van hom verwag nie en het hom gevra om te verduidelik.

Koning H het toe begin vertel dat hy vandat hy ‘n jong rugby-prins was, hy na die ander prinse gekyk het met begeerte. Hulle was vir hom baie mooi. En dat hy nooit in die prinsessies belanggestel het wat hom slaafs agtervolg het nie. Daar was veral een ander kroonprins wat sy hart gesteel het; die grootste liefde van sy lewe. Koning H het egter ook besef dat hy nie sy hart kon volg nie want hy wou nie ‘n verstoteling in sy kerk, gemeenskap en vriendekring word nie. Hy het toe maar besluit om die beste en die mooiste prinses te kies en met haar te trou. ‘n Maand of wat later het sy liefling dieselfde gedoen en ook getrou.

ist2_1623304_two_men_kissing.jpg

Die koning het haar ook daar en dan belowe dat hy haar nooit gedurende hul huwelik verkul het nie. Die begeerte was soms daar, maar hy het daagliks sy God op sy kniee gesmeek om hom te verlos van die sondige begeertes wat hy gehad het. Hy het egter ook erken dat die stryd hom van binne begin opvreet het en dat hy werklik nie geweet het hoe lank hy nog homself sou kon misken nie. 

Die Koningin was baie hartseer en haar hart het gepyn uit deernis vir die man saam met wie sy so baie gedeel het; die man saam met wie sy groot en amper oud geword het. Alles was skielik vir haar duidelik en sy het besef dat die fout nooit by haar gele het nie. Sy het besef dat sy tog ‘n vrou is, ‘n begeerlike een; en skielik verstaan waarom sy nooit genoegdoening en vervulling by hom kon vind nie.

Koningin K en Koning H het mekaar vir die eerste keer in amper 19 jaar van getroud wees gevind; en verstaan…

Die storie – Hoofstuk 1

Hoofkarakters:

Die prinses (word later Koningin K)

Die prins (word later Koning H)

Die prinsessie (nageslag van K&H)

Koning D (word later die draak)

Die Beskermengel (word later Engel van die Dood) 

Lank lank gelede, in ‘n mooi groen land by die see was daar ‘n pragtige pedagoog-prinses wat haar hart verloor het op ‘n groot sterk rugby-prins. Vir haar was dit liefde met die eerste soen en vir hom… ‘n uitweg…

Na mooi praat van sy moeder en ernstige prediking van die dominee, is die tweetjies toe uiteindelik getroud. Sy, stralend; en hy… steeds op soek na ‘n uitweg.

Na ‘n jaar van wilde en woeste seks is hulle beloon met ‘n pragtige nuwe prinsessie. Koningin K en Koning H se liefde en aandag het van daardie oomblik, meestal om haar gewentel. Sy was alles in hul lewens (sy is steeds).

Die huwelik het vinnig sy sprankel verloor vir Koningin K; en Koning H het maar net uitgehou en aangehou, steeds dankbaar vir die uitweg…

Die Koningin het mettertyd begin aanvaar dat die Koning haar nie regtig lief het nie en het (in haar onkunde) geglo dat sy eenvoudig net nie goed genoeg is om liefgehe te word nie. Sy het aanmekaar die fout by haarself gesoek en gevind. Sy het, omdat sy nie meer omgegee het nie,  lank voor haar tyd oud, lelik en vet geword.

Die Koning was nie bewus van haar gevoel nie want hy was besig om weg te kruip in die huwelik. Hy het werkilk die beste gedoen wat hy kon… want meer kon hy nie…

Agtien onmerkwaardige jare later het Koningin K egter besluit dat sy nie meer so kon aangaan nie. Op haar 39ste verjaarsdag, in Augustus 2006, het sy haarself belowe dat sy, voor sy 40 word, haar lewe gaan verander. 

Sy het nie vir Koning H vertel van haar plan nie, want hy was heeltemal vasgevang in sy eie droomwereld en steeds afhanklik van die uitweg wat hul huwelik aan hom gebied het.

Die koningin het daar en dan besluit dat sy ‘n nuwe koning gaan soek om lief te he. Sy het haar kompertjie nadergetrek en op die internet begin jag. Sy het egter in die proses ‘n paar paddas raakgeloop en een keer haar kop baie, baie seer gestamp; maar uiteindelik, die dag na Kersfees, haar nuwe koning ontdek! Sy naam? Koning D.

 shrek_and_fiona.gif

Sy het die koning reeds geken (of so het sy haar verbeel) en het alles gelees wat hy geskryf het, lank voordat sy besef het dat hy haar koning kon wees. Koning D was ‘n formidabele internet en virtuele minnaar en het Koningin K se hart binne die bestek van dae in sy besit geneem. Sy woorde het van haar besit geneem en haar heel ingesluk. Sy het en kon en wou geen weerstand bied nie. Hul liefde het oornag geblom en binne die bestek van weke was hulle omring deur ‘n blomtuin. 

Ek het ‘n storie…

Ek het ‘n storie, ‘n ware verhaal, maar ek weet nie hoe om dit te vertel nie.

Ek, en ‘n klomp ander mense, is op meer as een manier ingedoen deur ‘n man wat onder die naam Nathan E Bond skryf, maar op wie se ID-dokument, die naam Drewan Dwight Baird verskyn.

Ek weet nie regtig hoe om te begin nie.

Dit is ‘n liefdesverhaal, en ‘n drama; en aan die einde, (die storie ontwikkel nog) dalk ‘n moordverhaal.

Die beste is dalk om ‘n slaaptydstorie daarvan te maak, om die entertainment value daarvan te verhoog.

Ja! Ek weet! ‘n Sprokie… ene met prinsesse, koninginne, prinse en konings. En ‘n draak… of nee…. ‘n koning wat in ‘n draak verander… ja, ‘n draak wat die koningin se liefde en skatkis in vlamme laat opgaan.

Wag, laat ek gaan dink…

vallejo11.jpg