Karin, ongeredigeerd

Om wys te word

Hierdie blok was deel van my helingsproses.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Tydens die skryf daarvan was ek nie baie wys of slim nie; ek was séér.

As jy hierop afkom en dit dalk lees, hou dit tog net in gedagte…

Wysheid kom eers met nabetraging; en spyt kom ALTYD te laat.

Groete

Karin

 

Fin

Ek weet nie hoeveel van julle is oud genoeg om die witlynmannetjie op die blou agtergrond te onthou nie. Hy het so ‘n snaakse taal gepraat en wanneer sy storietjie verby was, het daar FIN op die skerm verskyn.

Hierdie is my FIN.

Die storie wat ek hier geskryf het, is klaar. Hier het ek my hart leeggepraat en leeggehuil. Dit was nodig.

Ek het niks meer daaroor te se nie. Ek het ‘n nuwe lewe begin en ek is gelukkig.

Van nou af wil ek net vorentoe kyk.

fin

Al wat ek uit my verlede met my gaan saamneem, is die lesse wat ek geleer het.

Ek het geleer dat daar skelm en wrede mense tussen ons rondloop. Ek het ook geleer dat jou hulp uit die vreemdste oorde kom. Ek het geleer van die waarde van vriendskap.

En die grootste les van almal? Ek het die ware betekenis van liefde leer ken.

K

Die afgelope paar dae is ek heeltemal lukraak en uit die bloute deur verskeie individue, wat mekaar van geen kant af ken nie, uitgevra oor Drewan Baird aka Nathan Bond aka Koning Dawid; die rede vir die begin van my blok.

Een wou weet of ek ooit weer van hom gehoor het; ‘n ander wou weet of ek hom nog gaan laat opskroef en wanneer; en ‘n ander wou net gesels en het my vertel van sy eie ondervinding met die bliksemse swendelaar; nóg ‘n lang en siek verhaal wat my geskok het, maar beslis nie verbaas het nie.

Dis nogal vreemd om weer aan hom te dink en te dink oor hoe dom ek was. Ek het vannaand weer my eie storie gaan lees, vir die eerste keer in ‘n lang tyd. Ek kan amper nie glo dat dit ék was wat dit alles beleef het nie. Dit voel asof ek van ‘n dom-onnoselle, blinde en breinlose vreemdeling lees.

Maar ek voel nie meer daaroor nie. Ek voel niks. Geen woede nie. Geen skaamte nie. Geen selfbejammering nie. Geen bitterheid nie. Niks. Nada.

En dit is goed.

‘n Vriend het my gedurig tydens my donkerste tyd herinner aan ‘n Engelse spreekwoord wat vertel dat mens nooit moet aksie neem wanneer emosie betrokke is nie. Emosie belemmer ‘n mens se oordeel. Revenge is best served cold.

Tydens my emosiebelaaide herstel het ek gereeld moordgedagtes gekoester en het ook twee aanbiedinge gehad van vriende wat bereid was om die man die tydelike met die ewige te laat verwissel.

Nou dat ek onobjektief daaroor dink, meen ek dit is nog steeds ‘n goeie idee. Want hy het nie opgehou nie. Hy is steeds besig om mense om elke hoek en draai te bevark en te vernietig. Hy skryf elke dag lustig voort op sy eie blok en sleur nuwe slagoffers mee met sy meesterlike manipulasie vermoë.

Na meer navorsing en inligting wat ek onlangs oor sy persoonlike verlede bekom het, het ek nou tot die slotsom gekom dat hy nie rehabiliteerbaar is nie. Dat hy ‘n gevoellose psigopaat is wat mense en instansies gebruik en manipuleer tot sy eie voordeel. Hy het geen berou nie. Hy het geen gewete nie.

Hy het nie die reg om so voort te gaan nie. Hy moet kry wat hom toekom.

Daar is heeltemal te veel mense wat deur hom vernietig en/of verneder is maar die wet is ongelukkig nie altyd aan die lydende party se kant nie.

En, wat baie mense vergeet: Hy is so slim soos die houtjie van die galg. Hoekom anders sou so baie mense – slim en belangrike mense – hulle vasgeloop het met hom?

Hoe hierdie storie gaan eindig weet ek nie – maar ek weet nie of ek nog lus is daarvoor nie. Dit het lank genoeg my lewe regeer. Hy kan maar my geld hou. Die les wat ek geleer het was seker R52 000 werd…

knights.jpg

Ek het so ‘n paar maande gelede my blog begin met één doel voor oë, om my kop en hart leeg te kry; en ook om in die proses te probeer herstel.

Ek het hart verloor op ‘n man wat my op meer as een manier misbruik het. Die verhaal het ek in die vorm van ‘n sprokie vertel.

Hier is egter ‘n baie reguit en nugter blok oor die selfde man.

http://prometheusongebonde.wordpress.com/2007/12/19/science-does-not-need-friends-like-nathan-bond/

Die Storie – Slot

My storie het nog nie ‘n slot nie, maar hier is waar hy nou gaan stilstaan het…Die koning se saak word tans van alle rigtings ondersoek deur almal wat hy skade berokken het. Baie vrae word gevra. Antwoorde is daar steeds nie. Ek self het regshulp ingeroep en is in die proses om ‘n kriminele klag teen hom te formuleer. Dit wil voorkom asof daar ook ander klagtes teen hom gaan wees, beide siviel en krimineel.

Dit het ook aan die lig gekom dat hy ‘n lang geskiedenis van bedrog het en dat ek en sy vriende nie sy eerste slagoffers was nie.

Die koning neem tans die rol in van ‘n pateet wat eerder die ander wang wil draai terwyl hy besig is om ‘n antwoord op die beskuldigings te fabriseer. Of die antwoord OOIT gaan realiseer is ‘n ander vraag…

Intussen gaan ek voort met my lewe.

Ek probeer aangaan deur al my aandag op my dogter en op my werk te fokus vir nou. Dit is al wat op die oomblik vir my saakmaak. My kind begin volgende week met haar matriek-eindeksamen en sy het my nou nodig.

mt.jpg

Gelukkig het my dogterkind heelhuids uit die ding uitgekom en is sy nie persoonlik skade berokken nie. Die verhouding tussen my en haar het in der waarheid baie verdiep en ons is nader aan mekaar as ooit tevore. Ek glo ook sy het iets geleer hieruit wat haar dalk later in haar eie lewe van nut kan wees.

Later wanneer dinge minder seer maak en ek volkome herstel het sal ek weer aan die ander dele van my lewe aandag gee.

Hierdie is nie my laaste skrywe op my blog nie, maar die storie oor my verlede is nou klaar.

My toekoms lê en wag…

Die Storie – Hoofstuk 9

Koningin K het mettertyd besef sy klou vas aan iets wat sy reeds verloor het; iets wat sy nooit gehad het nie. Sy het stadig tot die besef gekom dat haar verhouding met Koning D heeltemal eensydig was. In praktyk het alles van haar kant af gekom, niks van syne nie. Al wat hy ooit vir haar gegee het was woorde en lee beloftes.

Sy wou nie die werklikheid in die oe staar nie, sy wou nie aan haarself of die wêreld erken dat sy iemand toegelaat het om haar van alles te stroop nie. Haar selfrespek, haar liefde, haar vertroue in mense en haar finansieele vryheid.

Sy het haarself heeltemal in hom verloor.

En sy was skaam.

Die wêreldwyse, sterk en slim vrou, het haar vasgeloop. Die vernedering was eenvoudig te veel en sy het haar van die wêreld afgesonder.

Dit was ‘n donker tyd.

ss26016.jpg

‘n Klets-Vriendin uit ‘n ver land het vir haar kom kuier. Hulle het saam gehuil; Vriendin oor haar eie seer en Koningin K oor haar verlies. Dit het getroos, maar niks verander nie.

Die donkerste dag van almal, was die 17 Augustus, haar 40ste verjaarsdag. Haar troudag.

Familie het van ver af kom kuier. Lank voor die tyd gereel dat hulle haar vreugdevolle verjaar-en troudag by haar sal wees.

Maar daar was nie ‘n troue nie. Net vernedering, ongevoelige opmerkings, verwyte en hartseer. Sy het daardie nag haar kamerdeur agter haar gesluit en al die klere en goedjies wat hy agtergelaat het in hulle klerekas, finaal weggepak. Sy het daardie nag ook finaal haar liefde vir hom weggepak. Sy moes veg om haar selfbehoud.

Maar… daar was ook blomme. ‘n Pragtige bos wit verrassings-blomme om haar te troos. En daar was vriende.

blom.jpg

En toe begin sy praat. 

Daar was eensklaps omgee en ondersteuning uit die mees onverwagte oorde. Koningin K het besef dat mens nie jou familie kan kies nie, maar dat sy wel daarin geslaag het om reg te kies toe sy haar vriendskappe gesmee het.

Hoe meer sy gepraat en vertel het, hoe meer wou sy praat en vertel. Die aanvanklike skaamte en die vernedering wat daarmee gepaard gegaan het, het spoedig verflou in die lig van die liefde en onderskraging van haar vriende.

Sy was eensklaps ook nie meer alleen in haar soeke na geregtigheid nie. Soos sy haar verhaal begin vertel het, het daar ook ander individue na vore gekom wat deur Koning D bedrieg en verblind is. Ander mense, meestal sy vriende, wat ook onder sy meedoenlose en gewetenlose swendelary deurgeloop het.

Sy het nie meer soos ‘n dom idioot gevoel nie. Mense vir wie sy baie respek het en wat sy voorheen baie slimmer en sterker as haarself geag het, het ook deurgeloop onder die briljante, vlymskerp brein en oorredingsvermoe van haar Koning D.

Die begin van die einde was in sig…

Die Storie – Hoofstuk 8

In die tyd van die rok en die laaste geld, moes Koning D inderhaas vertrek na sy land in die Ooste waar daar met Koppe in die Sand gestaan word. Hy moes dringende reelings gaan tref vir ‘n verwelkomingskommitee om die langverwagte skip in die hawe te ontmoet.

Die opgewondenheid waarmee hy haar elke dag gebel het, was merkwaardig. Die frustrasie ook, dae het verbygegaan terwyl hy naarstiglik met die hawemeester baklei en onderhandel het om die skip in die hawe toe te laat. Die hawemeester was ‘n dom en onnosele vent en sy klerke wat met doeane en aksyn moes onderhandel om die fabelagtige skatkis in ontvangs te neem, almal ‘n klomp breinlose idiote.

Koningin K is daagliks op hoogte gehou van verwikkelinge en die opdrag gegee om hom nie te steur nie aangesien hy elke dag – die heel dag lank – in intense en belangrike vergaderings was om die veilige aankoms van die skip in die hawe te verseker.

Gedurende hierdie tyd het Koning D vir Koningin K gevra om asseblief weer in haar skatkis te gaan loer en te sien of daar nie dalk nog ‘n paar munte rondlê wat hy as omkoopgeld aan die hawemeester kon betaal nie. Koningin K het gaan kyk, al het sy geweet daar was niks. Sy het dit selfs oorweeg om haar vorige Koning H te vra vir ‘n paar munte, maar sy het nie geweet hoe sy sou kon verduidelik oor waarheen haar reuse skatkis heen verdwyn het nie.

Toe sy koning D laat weet dat daar regtig niks meer is nie, was hy effe ongelukkig en het sy ongelukkigheid gedemonstreer deur haar daarna al hoe minder te bel.

Daar het soms dae verbygegaan waarin sy niks van hom gehoor het nie en wanneer sy hom probeer bel het, was al sy telefone op voice-mail. Hy het haar soms op vreemde tye gebel en haastig verduidelik dat hy dadelik moes teruggaan na die vergaderings en dat almal vir hom wag; dat hy net vinnig uitgegeglip het om haar te vertel dat dit wil voorkom asof dinge binnekort opgelos sal wees.

Ander kere het hy haar gebel, briesend en woedend oor die onbeholpenheid van die Hawemeester en sy klerke en dan sommer ook die Skip se kaptein sleggesê.

So het dit aangehou vir weke.

Koningin K se bril het vir oulaas gekraak, maar sy het uitgewoonte steeds die stukkende raam sonder glas in die oggende opgesit; en al wou sy nie die werkilikheid in die oe staar nie… het sy dit stadig maar seker begin sien.

Sy was alleen. Sy was seer. Sy was kwaad. Maar meestal, was sy alleen. Haar meisiekind was by haar pappa vir die wintervakansie en sy moes haar eerste nat en koue winter in haar nuwe kasteel alleen , heeltemal alleen oorleef.

220505j.jpg

Haar liefde vir haar koning wou ook nie weggaan nie. Sy het daagliks haar brein afgestof en blinkgevryf, maar haar hart het haar denke elke dag weer onder ‘n kombers verberg.

Sy was werkloos, geldloos en manloos. Die toekoms het vaal en bleek voor haar gelê.

Omdat sy egter van nature heel lewenslustig was, het sy nie vir baie lank op ‘n hopie gesit en gehuil nie. Sy wou ‘n oplossing vind vir haar alleenwees.

Koningin K het haarself op ‘n internet vryplek geadverteer en baie duidelik daarop gesê dat sy nie ‘n nuwe koning soek nie, maar dat sy plesier en speelmaats soek.

Sy het baie speelmaats gekry en hulle op ‘n ry, een vir een, moeg gespeel. In hierdie selfde speeltydperk het sy amper daagliks steeds vir haar Koning D in die hande probeer kry en soms geslaag. Hy het haar steeds van sy ewigdurende liefde verseker en verhale van skatte en skepe en hawens vertel.

Sy was in twee geskeur. Sy het skuldig gevoel oor haar nuwe speelmaats. Sy was egter meer alleen as ooit tevore.