| In die tyd van die rok en die laaste geld, moes Koning D inderhaas vertrek na sy land in die Ooste waar daar met Koppe in die Sand gestaan word. Hy moes dringende reelings gaan tref vir ‘n verwelkomingskommitee om die langverwagte skip in die hawe te ontmoet.
Die opgewondenheid waarmee hy haar elke dag gebel het, was merkwaardig. Die frustrasie ook, dae het verbygegaan terwyl hy naarstiglik met die hawemeester baklei en onderhandel het om die skip in die hawe toe te laat. Die hawemeester was ‘n dom en onnosele vent en sy klerke wat met doeane en aksyn moes onderhandel om die fabelagtige skatkis in ontvangs te neem, almal ‘n klomp breinlose idiote. Koningin K is daagliks op hoogte gehou van verwikkelinge en die opdrag gegee om hom nie te steur nie aangesien hy elke dag – die heel dag lank – in intense en belangrike vergaderings was om die veilige aankoms van die skip in die hawe te verseker. Gedurende hierdie tyd het Koning D vir Koningin K gevra om asseblief weer in haar skatkis te gaan loer en te sien of daar nie dalk nog ‘n paar munte rondlê wat hy as omkoopgeld aan die hawemeester kon betaal nie. Koningin K het gaan kyk, al het sy geweet daar was niks. Sy het dit selfs oorweeg om haar vorige Koning H te vra vir ‘n paar munte, maar sy het nie geweet hoe sy sou kon verduidelik oor waarheen haar reuse skatkis heen verdwyn het nie. Toe sy koning D laat weet dat daar regtig niks meer is nie, was hy effe ongelukkig en het sy ongelukkigheid gedemonstreer deur haar daarna al hoe minder te bel. Daar het soms dae verbygegaan waarin sy niks van hom gehoor het nie en wanneer sy hom probeer bel het, was al sy telefone op voice-mail. Hy het haar soms op vreemde tye gebel en haastig verduidelik dat hy dadelik moes teruggaan na die vergaderings en dat almal vir hom wag; dat hy net vinnig uitgegeglip het om haar te vertel dat dit wil voorkom asof dinge binnekort opgelos sal wees. Ander kere het hy haar gebel, briesend en woedend oor die onbeholpenheid van die Hawemeester en sy klerke en dan sommer ook die Skip se kaptein sleggesê. So het dit aangehou vir weke. Koningin K se bril het vir oulaas gekraak, maar sy het uitgewoonte steeds die stukkende raam sonder glas in die oggende opgesit; en al wou sy nie die werkilikheid in die oe staar nie… het sy dit stadig maar seker begin sien. Sy was alleen. Sy was seer. Sy was kwaad. Maar meestal, was sy alleen. Haar meisiekind was by haar pappa vir die wintervakansie en sy moes haar eerste nat en koue winter in haar nuwe kasteel alleen , heeltemal alleen oorleef. Haar liefde vir haar koning wou ook nie weggaan nie. Sy het daagliks haar brein afgestof en blinkgevryf, maar haar hart het haar denke elke dag weer onder ‘n kombers verberg. Sy was werkloos, geldloos en manloos. Die toekoms het vaal en bleek voor haar gelê. Omdat sy egter van nature heel lewenslustig was, het sy nie vir baie lank op ‘n hopie gesit en gehuil nie. Sy wou ‘n oplossing vind vir haar alleenwees. Koningin K het haarself op ‘n internet vryplek geadverteer en baie duidelik daarop gesê dat sy nie ‘n nuwe koning soek nie, maar dat sy plesier en speelmaats soek. Sy het baie speelmaats gekry en hulle op ‘n ry, een vir een, moeg gespeel. In hierdie selfde speeltydperk het sy amper daagliks steeds vir haar Koning D in die hande probeer kry en soms geslaag. Hy het haar steeds van sy ewigdurende liefde verseker en verhale van skatte en skepe en hawens vertel. Sy was in twee geskeur. Sy het skuldig gevoel oor haar nuwe speelmaats. Sy was egter meer alleen as ooit tevore. |
Posted by: Karin | September 29, 2007
Die Storie – Hoofstuk 8
Posted in Eendag lank, lank gelede... | Tags: Die Wreedheid van 'n Swendelaar



